Nuwe beleggings sal ons digitale ekonomie vorentoe dryf
Die vyfde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie, wat onlangs in Johannesburg gehou is, het ’n enorme hupstoot aan die land se digitale ekonomie gebied. Daar was, bykomend tot beduidende beleggingsbeloftes in data en telekommunikasie-infrastruktuur, ook aankondigings oor beleggings in die mynbou-, vervaardigings-, energie-, eiendoms-, logistiek-, asook voedsel- en dranksektore.
Dié aankondigings het die totale bedrag van beleggingsbeloftes wat oor die eerste vyf jaar van ons beleggingsveldtog gemaak is, na meer as R1,5 triljoen gelig. Dit oorskry die teiken van R1,2 triljoen wat ons in 2018 gestel het. Die beleggings in die ekonomie sal nie net bydra tot ekonomiese groei en werkskepping nie, maar ook ons land na ’n nuwe era van innovasie en vordering aandryf. Die digitale ekonomie is belangrik vir groei, maar dit is ook noodsaaklik vir die verskaffing van belangrike dienste soos onderwys, maatskaplike dienste en gesondheidsorg.
Suid-Afrika het reeds van die hoogste koerse van internetreikwydte in Afrika. Volgens Statistiek SA se algemene huishoudelike opname van 2021 het meer as ’n driekwart huishoudings internettoegang, 97% van alle huishoudings minstens een selfoon, en die meeste mense gebruik selfone om toegang tot die internet te verkry. Dit sluit nagenoeg 60% van landelike huishoudings in. Verskeie onlangse tegnologie-opnames dui aan dat hoër spoed en verbeterde selfoon en veselkabelinfrastruktuur help om die digitale gaping te vernou. Dit is die gevolg van verbeterde belegging in die digitale ekonomie in onlangse jare.
Beleggings in die digitale ekonomie het sedert die eerste Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie in 2018 wesenlik verhoog. Daar is oor die afgelope vyf jaar totale beleggingsbeloftes van R200 miljard in ons land se telekommunikasienetwerk deur Vodacom, MTN, Telkom, Rain en Liquid Telecom gemaak.
Vinniger veselkabels en die bekendstelling van 5G maak ons ekonomie meer mededingend aangesien meer verbindingsoplossings ondernemings help om te ontstaan en uit te brei. Die Equiano-onderseekabel wat in 2020 by die derde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie aangekondig is, is verlede jaar deur Google geloods. Ons sien meer belegging in datasentrums. Amazon Web, Teraco en Dimension Data het oor die afgelope vyf jaar beleggingsbeloftes van R21 miljard gemaak, bykomend tot die netwerkverskaffers. Amazon Web Services beplan om binne die volgende ses jaar sy belegging met ’n verdere R30 miljard te vergroot.
Vantage Data Centers, ’n VSA-gebaseerde maatskappy, het in 2021 planne aangekondig om sy eerste Afrika kampus in Johannesburg te bou. Die maatskappy sê dat hulle Johannesburg beskou as “die datasentrumspilpunt vir sub-Sahara-Afrika as gevolg van sy strategiese ligging, inligtingstegnologie-ekostelsel, veselkabelkonnektiwiteit en beskikbaarheid van hernubare energie”. Suid-Afrika word spoedig ’n wolkgasheer-spilpunt, met die vervaardigings-, finansiëledienste- en gesondheidsorgsektore onder die groot datasentrumbeleggers, volgens ’n onlangse verslag oor Afrika se datasentrummark. Die verslag stel verder dat onderseekabels die ontwikkeling van die plaaslike datasentrummark ondersteun.
Ons moet dringend die elektrisiteitskrisis en die diefstal en vernietiging van inligtingskommunikasietegnologie-infrastruktuur oplos om voordeel uit dié
inwaartse belegging te put en dit te sien verhoog. Dit was van die kwessies wat beleggers en selfoonnetwerkoperateurs by dié jaar se beleggingskonferensie geopper het. Ons werk saam met ondernemings en ander maatskaplike vennote om dié uitdagings aan te spreek en die bedryfsomgewing te verbeter.
Ons gaan ook voort met die strukturele hervorming wat so noodsaaklik is vir pogings om ons ekonomiese mededingendheid te verbeter. Byvoorbeeld, laasjaar se afhandeling van die eerste hoë-aanvraagspektrumveiling in meer as ’n dekade sal konnektiwiteit wesenlik verhoog en die koste van beide stem- en datadienste verlaag.
Die minister van kommunikasie en digitale tegnologie het onlangs die beleid vir versnelde benutting gepubliseer wat sal help om die benutting van telekommunikasie-infrastruktuur te bespoedig. Die nasionale vaardigheidsfonds sal binnekort ’n nuwe model vir aanvraaggeleide vaardigheidsontwikkeling van stapel stuur om ’n hupstoot aan die werkskeppingspotensiaal van dié beleggings te gee, wat R800 miljoen sal verskaf om opleiding vir werklose jongmense in digitale vaardighede te befonds. Ons sal, namate ons daarna kyk om oor die volgende vyf jaar verhoogde belegging aan te wakker, namate die strukturele hervormingsproses steeds momentum optel en namate maatreëls om die energiekrisis te beëindig vrugte dra, in staat wees om onsself verder aan die voorpunt van die digitale ekonomie in Afrika te plaas.