National

‘n Floreerende demokrasie het ‘n vrye media nodig

Een van die belangrikste kenm e r k e v a n ‘ n doeltreffende demokrasie is persvryheid. Dit is dus bemoedigend dat die onlangse vrystelling van die jongste Wêreld-Persvryheidsindeks aandui dat Suid-Afrika sy rangorde aansienlik verbeter het deur tien plekke op te skuif, van 35ste in die wêreld in 2022 tot 25ste vanjaar.

Die Wêreld-Persvryheidsindeks, wat jaarliks deur die organisasie Reporters Without Borders saamgestel word, beoordeel die stand van joernalistiek in 180 lande en streke. Dit kyk na die omgewing waarin mediawerkers funksioneer met betrekking tot politieke toestande, wetlike raamwerke, veiligheid,
en die ekonomiese en sosio-kulturele kontekste.
Die organisasie definieer persvryheid as “die vermoë van joernaliste as individue en kollektiewe groeperings om nuus in die openbare belang te kies, te produseer en te versprei, onafhanklik van politieke, ekonomiese, wetlike en sosiale inmenging, en in die afwesigheid van bedreigings vir hul fisiese en geestelike veiligheid.”


As ‘n betreklik nuwe demokrasie in vergelyking met lande met meer gevestigde tradisies van konstitusionalisme, kan ons trots wees daarop dat ons ‘n vrye en onafhanklike mediasektor bevorder. Volgens die opname is SuidAfrika se medialandskap “robuus, divers en dinamies” in ‘n tyd waarin joernalistiek ‘n toenemend gevaarlike beroep in verskeie ander wêrelddele geword het. Mediavryheid is ‘n steunpilaar van ons demokratiese bestel. Ons joernaliste is steeds die vaandeldraers vir aanspreeklikheid en die bemagtiging van burgers.
Media-ondersoeke laat nie net die kollig op korrupsie val nie, maar ook op die uitbuiting van kwesbare mense, die vervolging van fluitjieblasers, en
ʼn verskeidenheid oortredings binne die staat, die private sektor, akademiese instansies en ander sektore.
Die groei van burgerjoernalistiek en die beskikbaarheid van slimfone het dit moontlik gemaak dat allerlei nuuswaardige gebeure, insluitend die
optrede en uitsprake van openbare figure, onmiddellik aan ‘n massagehoor versprei kan word.


In Suid-Afrika is joernaliste vry om sonder sensuur, teistering of geregtelike inmenging te werk, selfs wanneer hulle diegene in gesagsposisies skerp kritiseer. Die media in Suid-Afrika word egter ook deur talle uitdagings gekonfronteer. Verskeie media-instellings sukkel om te oorleef weens tegnologiese verandering, wisselende mediaverbruiksgedrag en die nagevolge van die Covid-19-pandemie. Hierdie ontwikkelings ondermyn onvermydelik die lewenskragtigheid en diversiteit van ons media.


In onlangse jare was daar ook voorvalle waar joernaliste in die loop van hul werk gedreig of aangerand is. Sommige is op sosiale media uitgeskel of deur politieke figure geteiken.
As ‘n samelewing moet ons sulke optrede veroordeel en saamwerk om dit te voorkom. Dit is inderdaad belangrik dat die media die gesaghebbendes in
die regering, die sakewêreld en die burgerlike samelewing tot verantwoording moet roep in die openbare belang. Terselfdertyd speel die media ‘n belangrike rol om burgers op te voed en in te lig oor die kwessies wat vir hulle die meeste saak maak.
Volgende jaar word daar ‘n algemene verkiesing in ons land gehou. Terwyl ons mense hulle voorberei om hierdie belangrike burgerlike verantwoordelikheid uit te oefen, moet die media sy reikwydte en invloed gebruik om meer burgers aan te moedig om te registreer om te stem.


‘n Groter poging moet aangewend word om kwessies in gemeenskappe te dek wat soms min aandag in die hoofstroommedia kry. Sonder om kiesers onnodig te beïnvloed, moet die media fokus op die kritieke kwessies wat vir mense saak maak wanneer hulle moet besluit vir wie om te stem. Mediavryheid, soos soveel van die regte in ons Grondwet, kom nie vanself nie. Dit floreer in ‘n omgewing waar die media self die nodige omsigtigheid aan die dag lê om altyd geloofwaardig, akkuraat, regverdig en opreg te wees.

Op die ou end word die stand van ons media nie gedefinieer deur die posisie daarvan op ‘n indeks nie, maar deur hoe dit daartoe bydra om ‘n lewenskragtige demokrasie met ‘n ingeligte, bemagtigde en aktiewe burgery te bou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *